Menu
Posted by Shaun Marais Posted in Latest News

iPads dra by tot beter prestasies

Vanaf Volksblad

PRETORIA. – Onderrig in voorheen benadeelde skole in Daveyton aan die Oos-Rand verander nou dramaties met innoverende iPad-tegnologie en leierskapinisiatiewe wat deur die Peermont-groep moontlik gemaak word.

Clifford Elk, direkteur van die Peermont-skoolondersteuningsprogram, het as voorloper tot ’n konferensie oor basiese onderwys wat volgende week in Johannesburg gehou word, gister by die Gugulesizwe Primary School en die Unity Secondary School in Daveyton gewys wat met tegnologie in skole met min hulpbronne bereik kan word.

Peermont se program van R40 miljoen fokus op 25 skole in die Ekurhuleni- en Sedibeng-distrikte en sal binne vyf jaar 30 000 leerlinge bereik.

Elk het gesê die doel met die program is om goeie skole in sentrums van uitnemendheid te verander, waar die gehalte van skole se slaagsyfers beter is, pleks van om net te kyk hoeveel leerlinge kan deurkom.

Die mikpunt is dat 60% van leerlinge bo 60% in sleutelvakke soos Engels en wiskunde moet behaal.

Benewens die voorsiening van iPad-tegnologie aan die skole, is daar ook opleiding vir onderwysers om die tegnologie maksimaal te benut, asook bestuursopleiding vir hoofde.

Tot op hede is sowat 1 300 iPads aan skole uitgereik waar leerlinge dit individueel of in groepe as deel van onderrig gebruik.

Volgens Elk is iPads steeds net ’n hulpmiddel in die klaskamer en kan dit nie handboeke of goeie vakkennis vervang nie. Die iPad werk op die beginsel dat toepassings (apps) vooraf daarop afgelaai is wat hoofsaaklik op die verbetering van leerlinge se geletterdheid en gesyferdheid fokus. Geen aanlynverbindings is nodig nie.

Skole stel roosters op sodat al die grade en onderwysers ’n beurt kry om die iPads te gebruik.

Volgens Elk het iPads meer voordele as ’n rekenaarsentrum. Dit veroorsaak nie bottelnekke in skole se roosters nie en sekuriteit is ook nie so ’n groot probleem nie.

Die ondersteuningsprogram fokus ook op die bevordering van die kunste en openbare redenaars by die skole en die vestiging van volhoubare tuine.

Boniswa Nonkonyana, hoof van die Ntsikana Primary School, wat ook deel van die program is, het gesê die skool se prestasie het dramaties verbeter sedert hulle iPads begin gebruik het. Die gemiddelde prestasie in Engels in die jaarlikse nasionale assessering (ANA) was 35% in 2011 en in wiskunde 23%. In 2013 het dit onderskeidelik tot 62% en 61% verbeter.

Nonkonyana het gesê waar onderwysers en leerlinge in die verlede ’n “vrees” vir tegnologie gehad het, het almal nou al soveel geleer.

Prof. Mary Metcalfe, onderwyskundige by Wits, het die program geloof en gesê dit is belangrik dat onderwysers lesse wat hulle uit die gebruik van tegnologie geleer het, met mekaar deel en nie die wiel van vooraf moet herontwerp nie.

, , , , , ,