Menu
Posted by Shaun Marais Posted in Latest News

Skole blink uit oor iPads

Vanaf Beeld:

Onderrig in voorheen benadeelde skole in Daveyton aan die Oos-Rand verander drasties met innoverende iPad-tegnologie en leierskapinisiatiewe wat deur die Peermont-groep moontlik gemaak word.

Clifford Elk, direkteur van die Peermont-skoolondersteuningsprogram, het gister by die Gugulesizwe Primary School en die Unity Secondary School in Daveyton gewys wat tegnologie kan bereik in skole met min hulpbronne.

Peermont se R40 miljoen-program fokus op 25 skole in die Ekurhuleni- en Sedibeng-distrik en sal binne vyf jaar 30 000 leerlinge bereik.

Elk het gesê die doel met die program is om goeie skole in sentrums van uitnemendheid te verander, waar die gehalte van skole se slaagsyfers beter is. Die mikpunt is dat 60% van leerlinge bo 60% in belangrike vakke soos Engels en wiskunde moet behaal.

Benewens die voorsiening van iPad-tegnologie aan die skole, is daar ook opleiding vir onderwysers om die tegnologie maksimaal te benut en bestuursopleiding vir hoofde.

Tot op hede is sowat 1 300 iPads aan skole uitgereik waar leerlinge dit individueel of in groepe as deel van onderrig gebruik.

Die iPads werk op die beginsel dat apps vooraf daarop afgelaai is wat hoofsaaklik op die verbetering van leerlinge se geletterdheid en gesyferdheid fokus. Geen aanlyn-verbindings is nodig nie.

Skole stel roosters op sodat al die grade en onderwysers ’n beurt kry om die iPads te gebruik.

Boniswa Nonkonyana, hoof van die Ntsikana Primary School – ook deel van die program – het gesê die skool se prestasie het sedert hulle iPads begin gebruik het drasties verbeter. Die gemiddelde prestasie in Engels in die jaarlikse nasionale assessering (ANA) was 35% in 2011 en in wiskunde 23%.

In 2013 het dit onderskeidelik tot 62% en 61% verbeter.

, , ,